Berriggewer: Erika Kotzé
Alhoewel Nieuwoudtville ‘n klein dorpie is in die Noord-Kaap, is dit ‘n groot toerisme aantreklikheid.
Die inwoners van die dorp is baie besig om alles gereed te kry vir die gaste. Die kerksaal is in rep-en-roer om die heerlike gevulde pannekoeke asook die pragtige handgemaakte artikels gereed te kry vir verkope. Gastehuise is van hoek tot kant skoon en gereed om die gaste met ope arms te verwelkom. Eetplekke is opgewonde om heerlike kos vir gaste aan te bied. Verder is daar heelwat besienswaardighede om te besoek en na die genade van oorvloedige reën begin die blomme te bot om helder vol kleur en geur die besoekers te oorweldig. Twee nagte in Nieuwoudtville is beslis té kort om hierdie ryk klein dorpie te ontdek.
Moenie vergeet om te eet by die kerksaal, Die Nedersetting asook Smitswinkel. Verder bedags bied Matjiesfontein heerlike kontrei-kos aan en moenie vergeet van die heerlike kaaskoek by Papkuilsfontein nie. Besprekings is ‘n moet om teleurstellings te verhoed!
Nieuwoudtville is meer as net blomme: ‘n besoek aan die waterval, kokerboomwoud en gletserspore is beslis die moeite werd. Die ryk geskiedenis van die dorp kan uitgeken word aan al die pragtige sandsteen geboue. Die kerk is maar net een van die pragtige geboue in die dorp. Daar is ook reunes op Ouplaas en Groenrivier. Daar is selfs ‘n klein museum op Willemsrivier.
Vir die wildliefhebbers is Kuboesberg met hul klein winkeltjie en mak diere ‘n lafenis.
Blomme is te sien by die Natuurreservaat, Hantam Botaniese Tuin, Kokerboomwoud, Willemsrivier, Trekpad, Grasberg en natuurlik Matjiesfontein en Papkuilsfontein. Die beste tyd van die dag is vanaf 11h00 tot 16h00 en ry altyd met die son agter sodat die blomme op hul mooiste gesien kan word.
Dan is daar natuurlik ook die “geheime” seisoen gedurende die herfs wanneer die Maartblomme of Brungsvinias jou sal bekoor met hul pink oorvloed.
Nieuwoudtville hou twee keer per jaar basaar. Paasnaweek is dit die Kloofbasaar en die eerste Saterdag van Oktober is daar lekker vleis en ook ‘n veiling.
Kontak gerus die Reklame Kantoor vir meer inligting of vra net enige van Nieuwoudtville se vriendelike inwoners.
Die grootste verrassing wat vir die inwoners en besoekers van Nieuwoudtville wag is dat Bonita en Paula van 7de laan ons dorp besoek gedurende 2016 se blomseisoen!
© 2025 Nieuwoudtville | Place of hidden treasures | Login | Candlelight